November 14, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Subaru XV opgeknap

Subaru het pas ‘n opgeknapte weergawe van die XV in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe model word van buite onderskei deur ‘n nuwe ontwerp vir die onderste sierrooster met bykomende kontoere vir die rondom die misligte en die ontwerp-elemente van die stamper. Nuwe masjien-afgewerkte allooiwiele van 17 of 18 duim word gebruik en die reeks kleure is hersien dat ‘n nuwe pêrel-geel die oranje bakkleur van die vorige model vervang terwyl ‘n nuwe skakering van blou vir die nuwe model beskikbaar is. Die toonaangewende grondvryhoogte van 220 mm maak dat die XV ewe tuis op die oop pad en in die veld is.

Subaru Intelligent Drive is nog ‘n nuwe kenmerk van die XV; dit word deur knoppies op die stuurwiel beheer en bied ‘n keuse tussen twee verskillende bestuursmodusse om brandstof-doletreffendheid te verbeter of ‘n meer sportiewe ritgehalte te bied.

Daar is twee XV-modelle beskikbaar, naamlik die 2,0i en die 2,0i S-ES, wat albei aangedryf word deur ‘n tweeliter-bokser enjin met vier silinders. Hierdie enjin lewer 115kW en wringkrag van 196Nm. Die enjin se lae swaartepunt verbeter stabiliteit en die plat ontwerp skakel vibrasie uit. Die engiste ratkas wat beskikbaar is, is ‘n Lineartronic-palwissel (CVT)-ratkas met ratspane agter die stuurwiel waarmee die sewe gange gekies kan word. Uiteraard is die XV vierwiel-aangedrewe, en Subaru se X-Mode-stelsel is standaard toerusting vir albei modelle. Hierdie stelsel stel die bestuurder in staat om moeilike padtoestande en uitdagende terrein baas te raak en sluit onder meer afdraandehulp in.

Onder die standaard-kenmerke van die 2,0i is 17 duim-allooiwiele, ‘n 6,3 duim vetoonpaneel vir die inligting-en-vermaakstelsel, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, stembeheer, spoedbeheer, ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n trukamera en enkelsone-klimaatbeheer. Die S-ES word toegerus met onder meer 18 duim-allooiwiele, leerbekleedsel, ‘n agtduim-raakskerm , dubbelsone-klimaatbeheer,agt verstellings en ‘n geheuefunksie vir die bestuurdersitplek, ‘n sondak, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ligdiode-misligte, outomatiese ligdiode-kopligte met dagryligte, outomatiese ruitveërs en buitespieëls met rigtingwysers wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word.

Daar is nuwe veiligheids-kenmerke standaard toerusting vir die S-ES. Die belangrikste hiervan is die Front View Monitor. Dit bevat ‘n kamera in die sierrooster wat wys wat aan die voorkant van die voertuig gebeur en die bestuurder help om in nou omgewings te beweeg en hindernisse te vermy. Hierdie kenmerk sal veral in veldry-toestande nuttig wees. Hierdie stelsel vorm deel van Subaru se Vision Assist-stelsel wat bestaan uit onder meer ‘n blindekolmonitor, baanwisselhulp, dwarsverkeer-waarskuwing agter en noodremhulp wanneer daar ‘n hindernis agter die voertuig is. Die kopligte beweeg ook in die rigting waarin die stuurwiel gedraai word om sigbaarheid te verbeter.

Die pryse van die nuwe XV-modelle is R 445 000 vir die 2,0i en R 509 000 vir die S-ES, en sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n onderhoudsplan van drie jaar of 75 000 km wat teen ekstra koste verleng kan word, in.