December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Ek wens ek was Cool soos Koos Kombuis!

Mustang knap sy Ponie-motors op.

Daar is min motors wat so groot reaksie uit lok soos ‘n Mustang. In my meer as ‘n dekade van nuwe motors bestuur kan ek omonwonde sê dat die enigste ander motor wat ek bestuur het, wat soveel reaksie uitgelok het, was die Lamborghini Huracán. En selfs toe was daar ‘n verskil. Met die Lamborghini het mense van vêr gestaar, die motor op ‘n afstand bewonder, sommige het fotos geneem (en selfs video op die snelweg) maar as jy vir hulle kyk, kyk hulle weg. Hulle het afstand gehou, weg van die ryk man met sy duur motor. Met die Mustang was die reaksie spontaan, ook met fotos en video, maar mense het nader gestaan, geselsies aangeknoop, vrae gevra. Hulle het gemakliker gevoel om die Mustang en bestuurder te nader, want die Mustang is die mense se sportmotor! Duur, maar definitief meer binne bereik van die werkende man.

Toe Ford die Mustang die eerste keer in Suid Afrika bekend gestel het, kon ek nie wag om hom te bestuur nie. Eerste indrukke het verras. Miskien was die verwagtinge net te hoog. Die Mustang is ‘n duur motor in Suid Afrika, maar wat nie uit die oog verloor moet word nie is dat die Mustang in Amerika ‘n hoofstroom motor is, dus het die harde plastiek in die binneruim aanvanklik verras. Ook die sesgang was soms bietjie uit ritme met wat ons wou hê, iets wat ons kon oorkom deur die ratte self te wissel met spane agter die stuurwiel. Niks hiervan het egter ons entoesiasme getem nie. Dit was ‘n Mustang en so motor sal jy enige iets vergewe, solank jy hom net kan bestuur.

Laat in 2019 is die Mustangs weer opgeknap en ons het dus weer ‘n geleentheid gekry om die nuwe Mustang te bestuur. Die goeie nuus is dat Ford na die mark geluister het en verander het waar dit saak gemaak het. Die binneruim is opgeknap en die materiale en bougehalte is strate beter. Die instrumente paneel is nou digitaal en verander van uitleg na gelang van rymodus. Kies jy Renbaan-modus raak die toereteller horisontaal, ‘n kopknik na die Mustangs van die sestigs. Hoe koel is dit!? Spesifikasievlak is ook hoog. Daar is verhitte en verkoelde sitplekke, dinamiese spoedbeheer, ‘n B&O klankstelsel, Android Auto en Apple Carplay, die lys gaan aan.

Die enjins is ook mee gepeuter en die 2,3-Liter Ecoboost lewer nou 213kW en 441Nm terwyl die 5L V8 331kW en 529Nm lewer. Wat egter meer van belang is, is dat die krag nou na die wiele gestuur word deur middel van Ford se tien-spoed outokas. Hierdie ratkas se seepgladde verrigting is ‘n groot verbetering op die uitgaande ses-spoed. Ook die onderstel is is verfyn en met slim tegnologie in die vering is die hantering ook beter, veral met die agterste vering wat harder gemaak is om die rigiditeit te verbeter. Die vooraansig is meer aggressief, maar steeds onmiskenbaar Mustang.

Ons toets motor was die 2,3-Liter Ecoboost (oor die V8 berig ons later) en al is hierdie die baba Mustang in die reeks, draf hy die lopie na 100km/h in minder as 6 sekondes kaf. Daar is meer as genoeg krag om die stert bietjie te laat uit hang as jy sou wou, en wie wat ‘n Mustang bestuur wil dit nie van tyd tot tyd doen nie? Daar is selfs die wat glo dat die 2,3 ‘n beter gebalanseerde motor as die 5-liter V8 is, maar dit word saggies gesê, want ‘n Mustang sonder ‘n V8 sal mos nou nie deug nie.

Daar is motors met beter afwerking. Daar is motors met beter verrigting. Maar die Mustang is ‘n ikoon en geen ander voertuig in die prysklas kan daai status ewenaar nie. ‘n Wild vreemde vrou het uit haar kar geklim en gevra of sy kan saamry. Hulle noem dit die Mustang-effek.