November 14, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Maybach se unieke Exelero

In 2005 het die Maybach-afdeling van die destydse Daimler Chrysler ‘n besondere motor belendgestel en net een daarvan is vervaardig. Die Maybach Exelero.

Die eenmalige Exelero is ‘n hoëverrigting-sportmotor wat deur Stola (nou deel van Blutec) in samewerking met Daimler Chrysler vervaardig is.

Die gedagte was dat die Exelero ontwikkel moes word om die Carat Exelero-reeks van die bandvervaardiger, Fulda, ‘n Duitse onderafdeling van Goodyear, te toets. Die Exelero was die tweede eenmalige voertuig wat as vertoonmotor vir Fulda se reeks hoëverrigtingbande gebruik is; die eerste een was die Gemballa Extremo in 1996.

Die aanvanklike ontwerp van die Exelero is beïnvloed deur die Maybach SW 38 en hy is op die onderstel van die Maybach 57 gebou. Die Exelero deel onder meer die Maybach W 38 se skuins agterkant. Een belangrike vereiste waaraan die Exelero moes voldoen, was dat hy ‘n topsnelheid van minstens 350 km/h moes kon haal om die beperkinge van die Carat Exelero-reeks bande op die proef te stel. Die motor is ontwerp deur vier studente van die Vervoerontwerp-fakulteit van die Pforzheim-Universiteit vir Toegepaste Wetenskap. Die bakwerk is in swart afgewerk met ‘n groot chroom-sierrooster en brandstofvuldop.

Onder die Exelero se enjinkap is ‘n V 12-enjin met twee turboaanjaers en ‘n kapasiteit van 5,9 liter. Dit is deur die Maybach-afdeling an Mercedes-Benz vervaardig en teen 60 grade gemonteer. Elke silinder het drie kleppe en die enjin se drukverhouding is 9,2:1. Die enjin lewer 515 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 1 020 Nm teen 2 500 opm. Hierdie enjin word aan ‘n 5-G Tronic-outomatiese ratkas gekoppel. Die Exelero se topsnelheid is 350 km/h en hy kan binne 4,4 sekondes van 0 tot 100 km versnel.

Allooiwiele van 23 duim is vir die Exelero gebruik; met Fulda se Carat Exelero 315/25 ZR 23-bande is voor en agter. Geventileerde skyfremme voor en agter met ABS-remme is gebruik.

Aan die binnekant is swart en rooi leermateriaal gebruik, met onder meer glansswart koolveselafwerking, asook sportsitplekke met rooi harnas-sitplekgordels.

Dit het omtrent twee jaar geduur om die Exelero te voltooi nadat Fulda aan Maybach opdrag gegee het om dit te vervaardig. Nadat die motor vir sy aanvanklike doel gebruik is, is hy verkoop. Maybach het op sy uniekheid staatgemaak om hom verkoop te kry omdat hy geweet het dat daar nie nog een vervaardig sou word nie, en ‘n diamantnyweraar met die naam van Andre Action Diakite Jackson het hom vir 5 000 000 Euro gekoop.

Daarna is die motor aan die hiphop-sanger Jay -Z vir die video van sy opname “Lost one” geleen. Die Excelero figureer in hierdie musiekvideo. Daarna is die motor aan ‘n Europese entrepreneur met die naam van Arnaud Massartic verkoop.

Sover daar vasgestel kan word, is die Exelero tans in die besit van Frank Rickert, die stigter van Mehcatronik, ‘n onderneming wat Mercedes-Benz-motors instel.

Fotos: Wikipedia