Tydens die Frankfurtse Motorskou van 1965 het Porsche ‘n nuwe weergawe by sy 911-reeks gevoeg.
Die Targa was die eerste 911 met ‘n oop dak, en is vernoem na die Targa Florio-uithouwedren wat van 1906 af op die Italiaanse eiland Sicilië plaasgevind het. Dit was nie ‘n volle afslaankap nie, en het eerder ‘n verwyderbare dakpaneel saam met ‘n rolstaaf en ‘n omkrulagterruit gehad. Toe die 911-afslaankap in 1983 bekendgestel is, het die Targa op die mark gebly en die jongste weergawe is pas oorsee bekendgestel.
Die nuwe model, gebaseer op die 992-reeks, sal in twee modelle beskikbaar wees, naamlik die Targa 4 en die Targa 4 S. Dit beteken dat geen modelle met agterwielaandrywing beskikbaar sal wees nie en daar is ook geen planne om ‘n Targa Turbo bekend te stel nie. Die Targa word as ‘n unieke model wat op ‘n nismark gemik word, beskou. Die 4 dui op vierwiel-aandrywing en volgens Porsche is die voorste as opgeknap vir verbeterde padgedrag en vastrap-vermoë onder alle omstandighede.
Die enjins kom uit die Carrera 4 en 4S, en daar is ‘n keuse tussen ‘n handratkas en ‘n PDK (Porsche dubbel-koppelaar)-ratkas. Volgens Porsche is net 3 tot 5% van alle 911’s wat tans verkoop word, handrat-modelle, maar die maatskappy het tog gedink dit was die moeite werd om so ‘n model beskikbaar te stel. Die Targa 4 se turbo-aangejaagde drie-liter enjin lewer 283 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 950 en 5 000. Die 4S se enjin lewer 331 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 530 Nm teen tussen 2 300 en 5 000 opm. Die topsnelhede van die 4 en die 4S is onderskeidelik 289 en 304 km/h en hulle kan binne onderskeidelik 4,2 en 3,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.
Soos die res van die 911-reeks het die Targa die PASM (Porsche Active Suspension Management)-stelsel as standaard toerusting. Dit stel die bestuurder in staat om tussen verskillende bestuurs-modusse te kies. Benewens die Normal en Sport-modusse is daar ook die Wet-modus; wanneer die sensors in die voorste wielboë ‘n beduidende vlak water op die oppervlak bespeur, verskyn daar ‘n waarskuwing in die instrumente-paneel en die bestuurder word aangeraai om dié modus met die hand te aktiveer. Een kenmerk wat opsioneel vir die 4 beskikbaar is maar standaard toerusting vir die 4S is, is Porsche Torque Vectoring Plus (PTV Plus), wat ‘n elektroniese agterste ewenaarslot insluit; dit versprei die wringkrag tussen die agterwiele.
Daar is ook ‘n spesiale uitgawe model, die Targa 4S Heritage Design edition is die eerste van vier versamelaars modelle en slegs 992 van die motors sal beskikbaar gestel word. Die model is ‘n kopknik na die ryke historiese verlede van Porsche en die buite en binne stilering kombineer die klasieke stilering van ouds met die nuwe, moderne tegnologie van vandag. Daar is vier kleurkeuses beskikbaar, maar veral die metaal cherry met goue logos (voorblad foto) herhinder aan die Porsches van die 1950s. Die skema word deurgedra na binne met twee kleure leer, Bordeaux rooi en Atacama Beige. ‘n Metaal plaatjie op die instrumente paneel dui die beperkte uitgawe nommer van die motor aan. Die gelukkige 992 eienaars wat die model aanskaf, kry tot ‘n horlosie in die selfde kleurskema en styl by. Die eienaar moet immers by sy motor pas!
Die nuwe Targa-modelle sal teen die einde van 2020 in Suid-Afrika beskikbar wees, en die pryse sal dan eers bekendgemaak word.
Artikel: Gerrie Smit & Johann van Tonder
More Stories
Peugeot 3008 GT Line
2021 Santa Fe nou meer begeerlik
KIA SONET