November 14, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Die Toyota Yaris GR: Tydren- en padmotor in een.

Toyota het onlangs sy tydren-geïnspireerde GR Yaris internasionaal bekendgestel. Die “GR”-letters staan vir Gazoo Racing, Toyota se motorwedren-afdeling. Die Yaris GR is ontwikkel uit Toyota se suksesvolle deelname aan die Wêreldtydrenkampioenskap (WRC). Met die Yaris GR word motorsportontwerp en -tegnologie na die wêreld van die padmotor toe gebring.

Die Yaris GR word aangedryf deur ‘n splinternuwe 3-silinder turbo-aangejaagde enjin wat ‘n kraglewering van 200 kW bied. Alhoewel reeds internasionaal bekendgestel word die Yaris GR nog vir plaaslike bekendstelling geëvalueer en verdere besonderhede sal mettertyd bekendgemaak word.

Die GR Yaris is ‘n homologasiemodel, wat beteken dit is ‘n voertuig wat gereed is – net soos dit is – om dadelik aan enige wedren te kan deelneem, maar terselfdertyd voldoen aan al die wettige vereistes as ‘n padmotor. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n homologasiemodel was die 1976 Fiat 131 Abarth Rally en die legendariese 1978 Suid-Afrikaanse ontwikkelde Fiat 131 Racing wat ook in Suid-Afrika in die Groep 1-wedrenne deelgeneem het.

Elke aspek van die motor is op verrigting gemik; ‘n splinternuwe platvorm en enjin, nuwe vering, aërodinamiese stilering, en ‘n permanente vierwiel-aandrywingstelsel. Die motor voldoen aan al die vereistes om suksesvol in tydrenne te wees en opwindende werkverrigting as superblitsbuks op die pad te bied.

Die GR Yaris wyk ook op treffende wyse van die standaardmodel af; die driedeurbakwerk is laer en breër en spog met dinamiese hoeke, allooiwiele met 225/40 R 18-bande, uitgeboude wielboë, ‘n groot voorste luginlaat, spesiaal ontwerpte remme met rooi remknypers en twee uitlaatpype.

Die GR Yaris is die tweede homologasiemodel wat wêreldwyd deur Totota Gazoo Racing vrygestel is, maar terwyl die GR Supra deur baanrenne ontwikkel is, is die GR Yaris deur Toyota se deelname aan tydrenne ontwikkel. Dit is die eerste model wat Toyota vir deelname aan die WRC gehomologeer is sedert produksie van die Celica GT FOUR in 1999 gestaak is. Toyota het met twee geslagte en drie modelle van die Celica GT FOUR deelgeneem aan een van sy suksesvolste WRC-veldtogte, ‘n era wat die maatskappy dertig oorwinnings, asook vier kampioenskapstitels vir jaers en een vervaardigerstitel besorg het. Met verwysing na sy roemryke voorganger dra die GR Yaris die GR FOUR-kenteken op sy agterklap.

Die WRC-span se ontwerpers en ingenieurs by Tommi Makkinen Racing het daarop gefokus om die aërodinamika, ligte gewig en massaverspreiding van die motor te vervolmaak; alles eienskappe wat noodsaaklik is om die beste werkverrigting en bestuursgenot moontlik te verseker. Die motor se vermoë om deur die lug te sny, word verbeter deur ‘n laer daklyn en die nuwe 1,6 liter turbo-enjin is verder agter in die middel van die motor geplaas, met die battery in die bagasieruim, om die motor ‘n beter balans in die onderstel vir verbeterde hantering, stabiliteit en reaksie te gee. Die bakwerk is van materiaal soos koolstofvesel-polimeer en aluminium vervaardig om die motor se krag-tot-massaverhouding te verbeter. Tydens ‘n uitgebreide ontwikkelingsprogram is die GR Yaris deur baan- en tydrenjaers getoets om seker te maak dat dit alles in die praktyk werk.

In vergelyking met die nuwe Yaris-reeks het die GR Yaris ‘n unieke ontwerp met ‘n driedeurbakwerk wat 91 mm laer is en toegerus is met raamlose deure wat ‘n koepee-silhoeët skep. Aan die voorkant gee die sierrooster en die lugskort die voertuig‘n outentieke GR-status terwyl die breë spoor en uitgeboude wielboë die allooiwiele van agttien duim huisves.

Die GR Yaris word toegerus met ‘n splinternuwe turboaangejaagde 1,6 liter-enjin met vier kleppe per silinder wat by motorsporttegnologie baat om verrigting te bevorder. Dit sluit suierverkoeling deur veelvuldige oliespuiters, groot uitlaatkleppe en ‘n gedeeltelik masjienafgewerkte inlaatpoort in. Dié enjin lewer 200 kW en 370 Nm en word gekoppel aan ‘n sesgang-handratkas. Die motor se topsnelheid word elektronies tot 230 km/h beperk en hy kan binne 5,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die motor se krag-tot-massaverhouding maak dat hy oor die werkverrigting van ‘n motor in die C-segment beskik terwyl dit eintlik ‘n B-segment-motor met ‘n massa van 1280 kg is. Die GR FOUR-stelsel is ontwerp om die aandrywing van elke wiel te vervolmaak terwyl dit ook lig en eenvoudig is. Die verdeling van die wringkrag tussen die voor- en agteras word deur ‘n koppeling met ‘n hoë reaksie beheer. Die stelsel bied effens verskillende ratverhoudinge vir die voor- en agteras en ‘n teorietiese balans wat wissel van volle voorwielaandrywing tot volle agterwielaandrywing. Hierdie buigsaamheid bied ‘n groot verrigtingsvoordeel bo AWD-op-aanvraagstelsel wat tweelingkoppeling- of permanente AWD-stelsels met ‘n middelewenaar gebruik. Die GR FOUR-stelsel is ook baie ligter.

Die bestuurder kan die stelsel se verrigting met behulp van die AWD-skakelaar aanpas om by heersende padtoestande of persoonlike voorkeure aan te pas. In die gewone modus is die voor/agterverdeling 60:40. In Sportmodus is die verhouding 30% voor en 70% agter vir bestuursgenot op kronkelpaaie en renbane. In Track (baan)-modus is die verdeling 50:50 vir vinnige en mededingende rywerk op renbane en sneltrajekte. Die wringkragbalans sal in elke modus outomaties aanpas na aanleiding van die bestuurder se insette, die voertuig se gedrag of pad-of baantoestande.

Die GR Yaris het ‘n nuwe, toegewyde platform wat die voorkant van Toyota se GA-B-platform wat in die nuwe 2020-Yaris gebruik word met die agterkant van die GA-C-platform kombineer. Dit maak voorsiening vir ‘n nuwe veringontwerp en plek om die GR FOUR-stelsel te huisves en verbeter die stabiliteit en hantering van die motor. Terwyl die gewone Yaris se agtervering ‘n wringbalk gebruik, het die GR Yaris ‘n dubbelmikveeruitleg met elke element wat vir uiterste verrigting vervolmaak is. Aan die voorkant word ‘n Mc Pherson-stutstelsel gebruik. Die remstelsel bestaan uit groot gegroefde skywe van 356mm met viersuier-remknypers wat ontwerp is om aan die streng vereistes van ‘n hoëspoedbaan en snelktrajektydrenne te voldoen.

Toyota ‘n nuwe vervaardigingsaanleg in die Motomachi-fabriek opgerig met ‘n monteerlyn waar die GR-sportmotors vervaardig word. In plaas van die normale monteerlyn bestaan die romp- en monteringslyne uit verskillende selle wat met outomaties begeleide trollies verbind word. Die vervaardiging van elke voertuig vereis ‘n groot aantal prosesse wat met die hand gedoen moet word en waarvoor Toyota ‘n span vakkundige spesialiswerkers gebruik. Die ontwerp van die fabriek en die talente van die arbeidsmag maak voorsiening vir uiters presiese montering van die uiters stewige voertuigrompe op ‘n vlak wat moeilik is om op ‘n gewone produksielyn te bereik.

Die GR Yaris, wat as ‘n “tydrenmotor vir die pad” beskou word, is die jongste toevoeging tot die ryk erfenis van Toyota-sportmotors soos die 800, die 2000 GT, die Celica, die Supra, die AE 86, die MR 2 en die 86.