Nadat Suzuki weer eens rekord verkope in Suid-Afrika behaal het, is nog ‘n modelreeks uitgebrei met die toevoeging van ‘n vlagskip-model.
Die Ertiga-sewesitplekker het een van Suzuki se gewildste reekse geword en ‘n nuwe vlagskip, die GLX, is laat in 2019 by die reeks gevoeg. Die GLX, wat ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en viergang-outomatiese ratkas bied, spog met luukshede wat nie vir ander veeldoelers in sy prysklas beskikbaar is nie, en sy bekendstelling beteken dat daar nou vyf Ertiga-modelle is om van te kies.
Die GLX bied al die eienskappe van die GL maar met ‘n paar bykomende luukshede wat hom van sy mindere stalmaats onderskei. Aan die kant is daar chroom van hoë gehalte vir die deur-handvatsels en die agterkant terwyl die trukamera daar versteek is. Die GL se wieldoppe word met allooiwiele van vyftien duim vervang. Daar is ook modderflappe en misligte wat in die gevormde onderste lughulsels gehuisves word. Die GLX word verder van sy stalmaats onderskei met die toevoeging van ‘n geboë ligdiodestrook by die kombinasie-agterligte.
Aan die binnekant het die GLX houtgrein-afwerking, ‘n hoogte-verstelbare bestuurder-sitplek, en ‘n middelkonsole-stoorplek met ‘n armleuning vir die voorste insittendes. Soos die Swift en Ignis GLX-modelle het die Ertiga GLX sleutelllose toegang met ‘n aansitknoppie, terwyl klimaatbeheer die gewone lugversorger vervang. Dit bevat ‘n sensor vir omgewings temperatuur wat verseker dat die vooraf ingestelde temperatuur gehandhaaf word. Die boonste deel van die middelkonsole bevat ‘n seweduim-raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel en verskeie instellings kan deur middel van die skerm of stemopdragte beheer word. Dit kan ook met Apple Car Play en Android Auto geïntegreer word. Dit beteken dat slimfoongebruikers hul slimfone se skerms en sekere funksies op die skerm kan sien.
Daar is ook ‘n twee kleurinligting-skerm van 4,2 duim in die instrumente-paneel; dit bevat inligting soos onder meer onmiddellike en gemiddelde brandstof verbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die voertuig se tenk afgelê kan word, krag-en-wringkraglewering en gemiddelde brandstofverbruik en snelheid vir die hudige siklus.
Die Ertiga GLX spog met verskeie veiligheids-kenmerke as standaard toerusting, naamlik ABS-remme met elektroniese remkrag-verdeling, twee lugsakke, en Suzuki se uiters sterk TECT-platform wat energieverspreidingskanale, frommelsones en bykomende syslagstawe in die deure insluit.
Die GLX deel die 1,5 liter vier-silinder enjin met sestien kleppe wat ook vir die res van die reeks, asook die Jimny gebruik word. Hierdie enjin lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik in die gekombineerde siklus 6,2 liter per 100 km vir die handrat en outomatiese model.
Die pryse van die Ertiga,reeks sluit in ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000km.
More Stories
Peugeot 3008 GT Line
2021 Santa Fe nou meer begeerlik
KIA SONET