December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

20YM Africa Twin and Africa Twin Adventure Sports

Honda Africa Twin – ‘n Legende, verbeter.

Om ‘n legende te laat herleef is nie maklik nie. Die dag wat Michael Schumacher se seun, Mick, op die wegspring streep in ‘n Formule 1 motor sit sal hy nie kan voorgee dat die van op die kant van sy motor niks beteken nie. Die verwagting wat so ‘n legendariese naam dra is hoog. In die motorfiets wêreld is dit die geval met die naam Honda Africa Twin.

In 1984 het Honda besluit om ‘n motorfiets te bou met ‘n enkele doel in gedagte: om te kompeteer in die lang afstand wedren genaamd die Paris-Dakar. ‘n Produksie motorfiets gebaseer op die kompetisie motorfiets is in 1986 bekendgestel. Hierdie motorfiets, die Africa Twin, het oor die jare wat gevolg het homself gevestig as een van die beste avontuur motorfietse wat ooit gebou was. Produksie gestaak in 2003, maar die Africa Twin is tot vandag toe ‘n gesogte ikoon.

Toe, 12 jaar later, het Honda die Africa Twin naam laat herleef. Die verwagting wat saam met hierdie motorfiets gekom het was enorm. Die wêreldwye bekendstelling was, heel gepas, net hier in (Suid) Afrika waar die Africa Twin nie net op die teerpaaie moes uithaal en wys nie, maar ook op die tegniese terrein van die pad af. Die Africa Twin het nie teleur gestel nie. Die legendariese Africa Twin inderdaad hergebore is in die Honda CRF1000 Africa Twin. Verkoopsyfers sedert die bekendstelling staaf die mening. Hierdie fiets stel ‘n standaard in die segment.

Toe Honda dus aankondig dat hulle nou, vier jaar later, ‘n CRF1100 Africa Twin gaan uitbring was die vraag onwillekeurig, wat en hoeveel kan mens tog nou verbeter? Ekstra krag is altyd welkom, maar as jy dink hierdie is net ‘n Africa Twin met 100cc meer, is jy vêr verkeerd. Die CRF1100 is basies ‘n geheel nuwe fiets, totaal herontwerp. Die brandstof tenk sit laer en die sitplek voor is nouer, wat help dat korter ryers gemaklik hul voete op die grond kan sit. Die ryer sit meer “in” die fiets, eerder as bo-op soos die vorige model. Die raam is nuut en die sub-raam is nou ‘n aparte part, so sou jy val en jou bagasie buig die raam hoef jy slegs die part te vervang, nie die hele raam nie. Letterlik al die veranderinge is gemaak met die praktiese in gedagte. Aan boord is daar nou ‘n kleur TFT-raakskerm (wat werk selfs met handskoene) kompleet toegerus met Apple-Carplay. Die Bosch elektronika beheer nou al die stelsels en monitor ook deurentyd die leun- en hellings van die motorfiets, hetsy deur ‘n draai, op die agterwiel of onder swaar rem.

Ons tyd op die fiets tydens die bekendstelling op Gyrotech was beperk, so om en by drie ure, waartydens ons die Twin deur sy passies kon sit op ‘n dinamiese hantering renbaan, die oop snelweg, grondpaaie asook enkelspoor bospaadjies. Hier was die grootste openbaring hoe groot die verskil is tussen die twee modelle. Daar is die gewone Africa Twin, met sy 18.8L brandstof tenk, laer windskerm en wiele met binnebande. Dan is daar die Africa Twin Adventure Sport met sy groter 24.8L brandstof tenk en ‘n reikwydte van oor die 500km. Beide is toegerus met dieselfde 1084cc enjin wat 75kW en 105Nm lewer en deel ook die elektroniese stelsels. Beide is beskikbaar met ‘n tradisionele of dubbelkoppelaar-outokas, maar die karakter van die motorfietse verskil hemelsbreed.

Die Africa Twin Adventure Sport is gebou vir toer. Die hoë windskerm bied beter wind beskerming en sou jy die DCT-model kies, is daar die opsie vir elektroniese vering. Die rit is gemaklik, dog lewendig danksy die meer krag en vinnige ratskakelings en dis duidelik dat hierdie ‘n myle-eter van formaat gaan wees. Die Africa Twin met die kleiner tenk en windskerm daarenteen voel heelwat kleiner en ratser, amper soos ‘n groot enduro fiets wat jy tussen jou bene kan rond gooi. Teenoor die Adventure Sport Toerfiets voel die Africa Twin soos ‘n skalpel. Die nie ‘n oordrewe stelling nie, die verskil voel so groot. Beide fietse het al die terreine met gemak hanteer, maar dis tog duidelik dat jy die regte model moet kies vir jou tipe ry. Veral in die tegniese terrein het die DCT-outokas ook net weereens gewys dat Honda, die enigste fabrikaat met hierdie tegnologie, ‘n stap voor die res van die mark is vir ouens wat hou van die tipe ry.

Ons eerste ontmoeting met die nuwe Africa Twins was kortstondig maar oorweldigend positief. Ons kan nie wag om van die toetsmodelle onder hande te kry vir ‘n volledige padtoets nie.

Pryse is as volg:

  • CRF1100 Man (Normal Tank) – R210 000
  • CRF1100 DCT (Normal Tank) – R222 499
  • CRF1100 Man (Adventure Sport) – R236 000
  • CRF1100 DCT (Adventure Sport/Elektroniese Vering) – R269 000