December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Hyundai se nuwe VENUE

Kompakte es-joe-wee – tipe motors is tans die gewildste onder motorkopers. Ekonomies, bekostigbaar en moderne vervoer waarmee weeksdae die tekkie op die teerpad tjank en naweke en vakansies die stofpaaie verken kan word.

Volkswagen het onlangs sy klein T-Cross bekendgestel en dit blyk op die oog af so gewild soos pannekoek by die kerkbasaar te wees. Veral onder die jonger generasie motorkopers. Hyundai het so pas sy antwoord daarop in die A-segment grootte bekendgestel. Die nuweling staan bekend as “VENUE’ en die Koreaanse vervaardiger brei daarmee sy reeks sportnutse uit tot ses modelle. Met die KONA, CRETA en TUCSAN wat in grootte en prys bo die VENUE in die Hyundai hiëragie geplaas word, bied die VENUE aan kopers egter ‘n waarde proposisie teen ongeveer R300,000, sonder om styl en toerusting in te boet.

Die VENUE word in Indië gebou en het vroeër vanjaar reeds aandag getrek toe dit tydens die New York motorskou gedebuteer het. Hyundai het drie modelle plaaslik bekendgestel naamlik die intree “Motion”, ‘n middelvlak “Fluid” en die topmodel “Glide”.

Soos wat tans die geval is in die segment waarin die VENUE kompeteer, gebruik Hyundai nou ook ‘n 1.0 liter, 3-silinder turbopetrol enjin. Die Kappa 1.0 T-GDI enjin is egter die enigste enjin kragbron in al drie modelle beskikbaar, maar kopers kan kies tussen ‘n 6-spoed handratkas of 7-spoed dubbelkoppelaar (DCT). Aandrywing is slegs deur die voorwiele.

Die 1.0 liter enjin is soortgelyk as die wat in die groter KONA gebruik word en lewer 88kW @ 6000 rpm en 172Nm (1500 – 4000rpm) se piekkragte wat in die ligter VENUE vir wakker verrigting op die pad sorg. Ons kon tydens die onlangse bekendstelling beide ratkaste beproef oor van die mees uitdagende Bolandse bergpasse en ek was verstom hoe gemaklik en vinnig die oorskakelings van die DCT ratkas is. Dit is duidelik dat Hyundai se voortdurende ontwikkeling van hul “direct-shift” outomatiese ratkaste vrug afwerp, want die 7-spoed DCT van die VENUE is ‘n juweel en staan geensins in die skadu van VW se toonaangewende DSG-outomatiese ratkas nie.

Met die VENUE se effe hoër grondvryhoogte was dit te wagte dat paddinamika negatief beïnvloed sou word, maar die nuweling se onderstel en veerstelsel is effe aan die fermer kant ingestel met die stuur net genoeg belaai vir goeie terugvoer en gevoel deur die draaie. Greep deur die vinnige swiepe en kort draaie van Franschhoek Pas was verbasend goed, terwyl balans en algehele paddinamika in geheel ons beïndruk het. Selfs die remme het na talle harde remsessies steeds vertroue ingeboesem.

Ons het in dieselfde periode VW se T-Cross in R-Design getoets en kon die twee teenstanders direk met mekaar vergelyk. Ons was verras om te vind dat die VENUE nie net dinamies beter gevaar het as die T-Cross nie, maar ook ‘n veel meer gesofistikeerde en stiller rit as die meer gerekende Duitser gebied het.

Die T-Cross se bandprofiele was weliswaar laer, maar die veerstelsel het tekortkominge uitgewys wanneer oor spoedwalle gery was.

Die kajuit van die VENUE is heel ruim vir ‘n kompakte sportsnuts en bied sitplek vir vyf insittendes, alhoewel die rugby eerstespan se voorry maar moeilik op die agtersitplek sal pas. Die laairuimte kan 350 liter se bagasie neem. Die praktiese binneruim is goed uitgelê en grotendeels afgewerk met harde materiale. Tog vertoon die kajuit geensins goedkoop of swak afgewerk nie met gemaklike sitplekke wat in sagte duursame materiaal beklee is. Tydens die bekendstelling het ons slegs die “Fluid” en “Glide” modelle bestuur wat beide relatief goed toegerus is.

Die raakskerm infotainment stelsel bied ondermeer ook Android Auto/Apple Carplay koppeling vir slimfone by beide modelle, met die topmodel “Glide” wat ondermeer klimaatbeheer, sleutelose aan/afskakel, LED-ligte wat om hoeke kan skyn as jy draai, LED dagryliggies asook voorste kolligte as standaard toerusting insluit .

Die VENUE word toegerus met verskeie standaard veiligheidstoerusting wat ondermeer insluit ABS remme, 6 lugsakke (2 voor, 2 kant asook 2 gordyn-tipe aan die sykante) vir die Fluid en Glide modelle. Ook Isofix koppelpunte vir babastoeltjies. Terwyl die intree Motion model net 2 lugsakke voor bied, kry al die modelle Elektroniese Stabiliteitsbeheer (ESC) met elektroniese remkragverspreiding (EBD) asook Remhulp wanneer die motor ‘n noodstop moet doen. Al die VENUE modelle kom ook standaard toegerus met heuwel wegtrekhulp (HSAC).

Hyundai se nuwe VENUE is verseker die regte produk op die regte tyd vir die Koreaanse vervaardiger se modelreeks in Suid Afrika. Die tjêrrie oppie koek is Hyundai se gemoedstrelende waarborg en diensplan.

Pryse (BTW ingesluit)

Venue 1.0 Motion (handrat) R 274 900

Venue 1.0 Motion (DCT)     R 304 900

Venue 1.0 Fluid (handrat) R 309 900

Venue 1.0 Fluid (DCT)            R 339 900

Venue 1.0 Glide (DCT)            R 369 900

Ingesluit by die prys is Hyundai se 7 jaar/200 000 km waarborg, 7 jaar/150 000 km padbystanddiens asook ‘n 3 jaar/45 000 km diensplan. Dienste moet jaarliks of elke 15,000 gedoen word wanneer van toepassing.