December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Nuwe Lexus RX nou beskikbaar

Lexus het sy vierde-geslag RX van ‘n opknapping voorsien en is die SUV weer reg om 2020 trompop te loop. Die huidige generasie het in Januarie 2016 sy plaaslike verskyning gemaak maar het, tot op hede, geen werklike veranderinge ondergaan nie. Dit het alles in die doodsnikke van 2019 verander toe Lexus besluit het om die verfkwas nader te trek.

Wat die ontwerp betref het Lexus heelwat veranderinge aangebring om die SUV weer vars en modern te laat voorkom. Dit sluit in ‘n nuwe sierrooster met ‘n drie-dimensionele aansien, dunner hoofligte, en meer geronde hoeke om die voorste buffer. Van agter is die SUV bietjie meer agressief en word die ligte nou in ‘n L-motief aangebring. Standaard oor die hele reeks sal voornemende kopers 20-duim wiele en ‘n sondak vind.

Die Lexis RX se kleurpalet bestaan uit die volgende kleure: Sonic Titanium, White Quartz, Graphite Black, Morello Red, Amber, Opulent Blue, en Black. Die twee nuwe kleure wat bygevoeg word is Ice Ecru is Terrane Khaki.

Die hersiene RX-reeks bestaan nou uit vier modelle. Die RX 350 EX span ‘n 3.5-liter V6 enjin in en skop ‘n lywige 221kW en 370Nm uit. ‘n Agt-spoed outomatiese ratkas stuur krag na al vier wiele, wat sorg vir ‘n versnellopie van 8.0 sekondes, en ‘n top spoed van 200km/h. Die RX 350 F-Sport span dieselfde meganika as die EX in, maar word deur kosmetiese veranderinge onderskei Dan is daar die RX 350L EX. Hierdie model bied sewe sitplekke en alhoewel dit dieselfde enjin en ratkas inspan, is kragvlakke ietwat laer as die ander twee modelle: 216kW en 358Nm.

Lexus het ook ‘n hibriede model tot die reeks gevoeg, die RX 450h SE. Dié model span ook die 3.5-liter V6 petrol enjin in, maar danksy elektriese krag skop die enjin nou 230kW uit. Anders as die ander modelle, stuur ‘n CVT (Continuously Variable Transmission) krag na al vier wiele. Vir hierdie model word die 0-100km/h lopie as 7.7sek aangegee, en top spoed is 200km/h. Volgens Lexus sal die 450h slegs 5.7 L/100km teug, wat, teoreties, ‘n reikafstand van 1140km moontlik sal maak.

Die hele RX-modelreeks is toegerus met Apple Car Play en Android Auto, asook sy eie internet konneksie danksy ‘n eie simkaart. Die RX kom met 15 gig data, wat later weer aangevul kan word deur die selfoon netwerk. Die RX is die eerste Lexus met die slimfoon koppeling, wat nou ook in die res van die Lexus modelreekse uitgerol sal word.

Wat prys betref sal voornemende kopers R1 012 000 vir die intree-model moet opdok, tot soveel as R1 315 800 vir 450h. Saam met die prys kom ‘n sewe-jaar/105 000km waarborg en volle onderhoudsplan. Op die hibriede model is die battery se waarborg agt-jaar/195 000km. Rakende veiligheid is die Lexus RX met 10 lugsakke toegerus, sowel as Lexus se Safety System+ op die F-Sport en hibriede model. Dié sisteem sal nou ondermeer voetgangers in die nag kan identifiseer, sowel as fietsryers deur die dag.

Die nuwe Lexus RX is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Artikel: Charlen Raymond & Johann van Tonder; Fotos: Cornel van Heerden