December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Nuwe BATT bande is #TrotsSA

In die wêreld van motorfietse is dit uiters belangrik dat die bande waarmee jou ysterperd toegerus is, jou die beste van alles moet gee. Hier kan jy nie goedkoop gaan nie, want jou lewe is belangrik. Jy kan nie ʼn gerekende bandevervaardiger verruil vir iets wat enigsins hoë risiko inhou nie. En nog meer, jy moet na ʼn bandevervaardiger se rekord kyk om ʼn ingeligte besluit te maak rakende jou volgende stel.

Plaaslik het ons vir BATT: ʼn bandevervaardiger bekend vir sy bande wat vir off-road motorfietse en die ATV mark gemaak word. Hier in hierdie segment moet jy jou storie ken en moet die bande wat jy ontwikkel van ʼn hoë gehalte wees; wat beide reputasie en vertroue betref. Batt hét dit en het daarom besluit om die gekompliseerde en kompeterende kant van die mark aan te vat: padbande.

Die bande wat BATT ontwikkel het is sy nuwe HP (High Performance) Series II wat vir die pad gemaak is. Nes die res van Batt se bande word die HP Series II in Suid-Afrika ontwikkel, maar vervaardiging daarvan vind oorsee plaas. Omdat BATT ʼn trots Suid-Afrikaanse vervaardiger is, beteken dit dat die bande, in baie gevalle, goedkoper as die kompetisie is. Ongeag die feit dat hierdie segment nuwe terrein vir BATT is, sal kopers R3300 moet opdok vir ʼn stel 190/120 bande. Dis bykans R1000 goedkoper as die naaste kompetisie!

Vir die kompeterende ryers onder ons is daar UHP “Full Slicks” vir baan gebruik. Ook hierdie stelle is teen R3450 besonder goed geprys. ʼn Plaaslike publikasie, Ridefast Magizine, het BATT se nuwe bande op die proef gestel en het dit na Phakisa geneem vir ʼn agt-uur lange uithou-ren. Na afloop van die ren was die bande in ʼn rybare kondisie en kon die motorfiets wat vir die toets gebruik was kompeterende tye opstel.

Bande is een van jou motorfiets se belangrikste komponente. Die verbruiker soek verrigting, duursaamheid en belangrik, bekostigbaarheid. As BATT iets kom bewys het dan is dit dat hulle die kennis en ervaring het om ʼn trots Suid-Afrikaanse produk die mark in te stuur. Die ervaring wat hulle oor die jare met off-road bande opgedoen het kan hulle nou op staatmaak en hul portefeulje verbreed. Die toets om Phakisa was met groot vraagtekens onderneem, maar daar is ʼn duidelike punt agter die stelling wat Batt se HP Series 2 bande gemaak het.

Eden Bike & Tyre in George is onlangs aangewys as offisiële verspreider van BATT bande in die Kaap provinsies. Eden Bike & Tyre is reeds wel bekend in die motorfiets gemeenskap en voorsien batterye, remme, kettings en bande aan Sportfietse, vierwiel-fietse, veldfietse asook avontuurfietse, kompleet met balansering, terwyl die kliënt wag. Vir die avontuurfiets ryers is daar selfs ‘n opsie om jou binneband velling om te skakel na ‘n velling wat sonder ‘n binneband kan ry. Oor hierdie omskakeling berig ons in ‘n volgende uitgawe!

Artikel: Charlen Raymond