November 14, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Mahindra XUV300

Soos ‘n geurige kerriebredie in die koue winter.

Min dinge in die lewe verras en vervul ‘n mens soos lekker kos. Mooi kos wat soos kuns op ‘n bord uitgestal word tref die oog ja, maar dit is die aroma en geur van kos wat besit neem van die sintuie en jou nader lok. Snaaks hoe ‘n heerlike geurige lamskerriebredie op ‘n koue en nat Kaapse wintersaand voor die kaggelvuur, my meer vervulling kan gee as ‘n bord “prentjiekos” in ‘n Michelin bekroonde restaurant.

Nou voor jy wonder wat het lamskerrie nou met hierdie karretjie te doen, moet ek dadelik antwoord, “nie veel nie”, behalwe dat die Indiese herkoms van Mahindra my laat terugverlang na ‘n onvergeetlike besoek jare gelede aan die land waar die aromas en smaaklikheid van onder meer hul eenvoudige kerriedisse my sinne verruk het. So ook het die nuwe XUV300 uit die Mahindra stal my verras met die waardeproposisie wat aangebied word – soos ‘n geurige bord trooskos op ‘n koue wintersaand.

Die XUV300 is Mahindra se nuwe toetrede plaaslik tot die kompakte sportsnuts-segment wat tans hewig onder mekaar baklei vir markaandeel in die Suid Afrikaanse mark. Die nuweling word toegerus met die groep se nuutste enjins asook hoë vlakke van standaard toerusting wat eerder by veel luukser voertuie aangetref word en stel gevolglik klasleidende standaarde vir die plaaslike kompakte SUV segment. Suid Afrika is ook die eerste land buite Indië waar die XUV300 bekendgestel word.

Met die eerste oogopslag tref die XUV300 se vooraansig met ‘n innoverende LED dagry-ligontwerp wat regaf van die hoofligte na die misligte onder in die voorbuffer loop. ‘n Groot gapende halfronde lugopening onder die breë sierrooster wat dwars tussen die hoofligte strek en sterk lyne op die enjinkap laat die buksie aggressief vertoon. Van die kant gesien is daar vaagweg trekke na Volvo se klein XC40 sportsnuts, terwyl die skouerlyn bo-oor die agterwiele ook aandag trek. Die swartkleurige dakpilare skep die illusie dat die dak sweef en met swart omboorsels om die wielboë wat die netjiese allooiwielontwerp (17” by die topmodel) beklemtoon, dakrelings en ‘n parmantige drukvlerkie op die agterklap (as deel van die standaardtoerusting), het die nuweling ook ‘n goeie skeut sportiwiteit in die voorkoms. In geheel ‘n vars en moderne voorkoms wat aanklank by Suid Afrikaanse kopers behoort te vind.

Mahindra het die XUV met twee enjins bekendgestel en kopers kan kies tussen ‘n 1.2 liter drie-silinder turbo-petrolenjin of ‘n 1.5 liter vier-silinder turbodiesel kragbron. Die 1.2 liter turbo-petrol lewer 81 kW by 5 000 rpm met 200 Nm wringkrag wat tussen 2 000 rpm en 3 500 rpm beskikbaar is. Die heel nuwe 1.5 liter viersilinder turbo-diesel enjin lewer 85.8 kW by 3 750 rpm en 300 Nm wringkrag tussen 1 500 en 2 500 rpm. Beide XUV300 modelle is toegerus met ‘n 6-spoed handratkas wat krag na die pad deur die voorwiele stuur.

Die kajuit is egter die plek waar die XUV300 nuwe standaarde vir ‘n Mahindra stel. Die algehele voorkoms binne vertoon modern, duursaam en goed toegerus. Twee afwerkingsvlakke (W6 en W8) is beskikbaar en beide weergawes kom baie goed toegerus met standaard geriewe soos ‘n stuurwiel met afstandbeheer skakelaars vir die klank en spoedbeheer, twee lugsakke, ABS -remme, lugversorging en ‘n 17,78 cm kleurraakskerm. Die skerm bied toegang tot SatNav, klank- en kommunikasiefunksies met behulp van Apple CarPlay en Android Auto, laasgenoemde weliswaar net op die luukser W8. Standaard bied die stelsel ook Mahindra se “Bluesense” toepassing waar bestuurders onder meer hul historiese bestuurinfo kan naspeur. Beide modelle is ook toegerus met Mahindra se “Smart Steering”-stelsel waar die stuurgevoel verander kan word met ‘n skakelaar na “Comfort”, “Normal” of “Sport” waar eersgenoemde die stuur ligter maak vir stedelike verkeer en gemaklike parkering, terwyl die “Sport” modus die stuur effe “laai” wanneer vinniger op die ooppad gery word. Elektriesbeheerde kantspieëls, sentrale sluitstelsel asook kragstuur is ook standaard beskikbaar op die goedkoper W6 model. Die W8 kry addisioneel ‘n ekstra USB laaisok, ‘n LED- beligte instrumentepaneel, voor en agter parkeergonsers, tru-kamera, elektriesbeheerde glas-sondak, spoedbeheer, ‘n stemopdragstelsel, ‘n banddruk moniteringstelsel met waarskuwing asook outomatiese ruitveërs met reënsensors. Verder is die W8 weergawe toegerus met sleutelose toegang en ‘n “STOP/START” – aansitterknop. Ook outomatiese ligte is deel van die standaardtoerusting op die W8 model.

Ek noem spesifiek die lang lys van standaard toerusting aangesien dit ongehoord is vir ‘n kompakte SUV in hierdie prysklas om standaard toerusting van hierdie omvang te bied teen hierdie prys, wat juis die XUV300 se waarde vir geld beklemtoon.

Die XUV300 het my verwagtinge heeltemal oortref met heerlike rygenot, lekker hantering en ‘n gewillige enjin wat baie goed met die 6-spoed ratkas saamwerk. Ratskakeling is verbasend glad, terwyl hantering, selfs deur die uitdagende draaie van Franschhoek Pas bo verwagting goed was met goeie balans en greep wanneer ek die klein Indiër aangejaag het. Indrukwekkend was die stil kajuit met uiters min pad- en windgeraas op die ooppad teen togsnelhede. Die Mahindra XUV300 is inderdaad soos ‘n heerlike bord lamskerriebredie op ‘n ysigkoue nat Weskuswinteraand voor die kaggel – trooskos wat in waarde vir geld die meer geroemde prentjiekos oortref!

Pryse (BTW Ingesluit) tydens bekendstelling:

XUV300 W6 1.2 Petrol: R 249 999

XUV300 W6 1.5 Diesel: R 274 999

XUV300 W8 1.2 Petrol: R 304 999

XUV300 W8 1.5 Diesel: R 324 999

Pryse sluit is 5jaar/150 000 km waarborg en ‘n standaard 5jaar/90 000 km diensplan met ‘n 24/7 standaard padbystanddiens.

Artikel: Dirk Galowitz