December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Lamborghini Huracán Performante

“Op die rug van ‘n kwaai bul”

Ek het onlangs die voorreg gehad om ‘n dag lank met die vinnigste Lamborghini tot datum oor die mees uitdagende bergpasse van die mooiste Kaap te vlieg. Die Lamborghini Huracán Performante is ‘n supermotor en word aangedryf deur die kragtigste normaal ge-aspireerde V10 enjin ooit uit die Lamborghini-stal.

Hier is ‘n paar kernsyfers om die spesiale vuurwa in perspektief te plaas:

  • 5.2-liter V10 wat 470 kW en 600 Nm wringkrag lewer
  • Die 0 to 100 kpu lopie word in 2.9 sekondes afgeblits
  • Top spoed is meer as 325 kpu
  • Dit het die Lamborghini toetsbestuurder Marco Mapelli in staat gestel om die Nürburgring Nordschleife rekord vir produksiemotors 2 keer te verbeter vir ‘n beste rondtetyd van 6:52.01
  • Prys in basiese gewaad is R6,1miljoen en sluit ‘n 3 jaar/100 000km Ritplan in. Ons toetsmodel was egter toegerus met opsionele ekstras van meer as R660,000 vir ‘n totale prys van bykans R6,760,000.

Toe die eerste Huracán in 2014 bekendgestel is, was dit die pionier van ‘n nuwe filosofie waar baanbrekertegnologie ingespan is sodat die bestuurservaring agter die stuur van die vuurwaens meer genotvol is. Die Performante is egter die model in die reeks wat ook die filosofie van “Raging technology” najaag om die rasegte en rou verrigting van ‘n baangefokusde renmotor te omvat. Vir díe doel beskik die Performante oor ‘n arsenaal hoogs gespesialiseerde hulpmiddels.

So is die Performante byvoorbeeld 40kg ligter as die standaard Huracán danksy die gebruik van ‘n saamgepersde mengsel van koolstofvesel in die kajuit asook die enjinkap, vinne, vlerke, lugskorte en buffers. Dan is daar “Aerodinamica Lamborghini Attiva” oftewel ALA (interessant is dat dit ook die Italiaanse woord vir “Vlerk” is) wat volgens Lamborghini sorg vir 750% meer afwaartse druk as by ‘n gewone Huracán. Hierdie stelsel wat binne 500 milli-sekondes die spoed, lugvloei en ander faktore meet, open en sluit dan outomaties verstelbare flappe in die voorste lugskort, asook in die voetstukke van die groot verstelbare drukvlerk agter. Die pilare van die die agterste drukvlerk is hol sodat lug wat oor die dak na agter vloei by openinge in die voetstukke ingaan waar dit dan teen flappe vasdruk wat dan die drukvlerk afwaarts verstel. Die gevolg is hoe vinniger die Performante ry hoe sterker is die lugvloei deur die opening en hoe groter is die afwaartse druk teen die flappe wat dan weer die drukvlerk al skerper na vorentoe afdruk om die Performante se agterwiele al vaster op die pad te druk vir beter greep en groter stabiliteit.

Gaan jy deur ‘n draai word die lugvloei al sterker na die teenoorgestelde kant van die vlerk gekanaliseer. Die gevolg is dat as jy vinnig deur ‘n draai na regs jaag word die lugvloei sterker deur die linkerkant se voetstuk gekanaliseer wat die drukvlerk se linkerpunt laat afwaarts “inkrul” om groter afwaartse druk op die linker agterwiel te bewerkstellig vir beter greep en uiteindelik hoër spoed deur die draai. Lamborghini noem dit “Aero Vectoring”.

Vir die doel is die vering 50% stywer om te kompenseer vir die groter afwaartse druk. Die gevolg is ‘n Lamborghini wat verbasend gemaklik bestuur en heel gerieflik elke dag gebruik kan word. Ten spyte van die groot 20” wiele met breë Pirelli P-zero Corsa rubber (305×30 agter en 275×30 voor) het die Performante nooit stamperig of ongemaklik gery nie, selfs nie toe ek (wat meeste van die tyd was) in die rengerigte “CORSA”- modus gery het nie.

Ook die uitlaatstelsel op die Performante het sy oorsprong by Lamborghini se Super Trofeo renmotors en maak gebruik van Titanium kleppe om gewig te bespaar en hoër toere te kan hanteer, terwyl die 7-spoed dubbelkoppelaar ratkas wat krag na al vier die wiele stuur, aangepas is vir optimale verrigting en supervinnige ratskakelings. Ek het meeste van die tyd oorskakelings met die ratspane agter die stuur gedoen en was mateloos beïndruk met die ratkas se verstommend vinnige oorgooie veral teen 8000+ toere!

Ten einde laterale beheer by die Performante te verbeter is ondermeer die elektroniese kragstuurstelsel herkalibreer en die “Lamborghini Dynamic Steering” verbeter met drie ritmodusse naamlik, “Strada” (Normaal), Sport & “Corsa” (Renbaan).

Die kajuit binne is knus, rengerig en stem baie ooreen met die van ‘n vegvliegtuig. Vir gerief is daar ‘n “Virtual Cockpit” soortgelyk aan die in die nuwegeslag Audi’s met ooreenstemmende funksionaliteit, maar die digitale instrumentepaneel verander die uitleg en inligting na gelang van die ritmodusse Strada, Sport of Corsa.

Die Lamborghini Huracán Performante is uiteraard slegs vir ‘n klein groepie uiters ryk kopers beskore.

Met ‘n kragtiger enjin, harder uitlaatklank en meer gefokusde rengerigtheid, is dit ‘n motor wat selfs deur eienaars van ander Lamborghinis begeer word. Die voorkoms, ontwerp en enjinklank van die hoë-verrigting 5,2l V10 kondig ‘n teenwoordigheid aan wat onwillekeurig aandag trek en vergestalt iets waarvan meeste mense slegs kan droom. Dit het spontane reaksie ontlok van bewonderaars en aanhangers waar ek ookal gery of parkeer het met mense wat fluit, handeklap en self van opgewondenheid gegil het!

Die voorreg om hierdie peperduur vuurwa met passie en oorgawe te kon bestuur en teen maksimum verrigting te toets, was nie net die verwesenlikking van ‘n tjokkertjie-droom nie, maar het my soos ‘n tiener laat giggel. Ek kon hierdie ongelooflike tegnologie deur die haarnaalddraaie en knap esse en vinnige swiepe van Du Toitskloof en Franschhoek se bergpasse behoorlik beproef. Ook op ‘n afgemete stil pad kon ek eerstehands beleef hoe hierdie “Raging Bull” sy topspoed gemaklik behaal en oorskry!

Selfs teen 330kpu het ek geensins onveilig gevoel of nodig gehad om met die stuur te stoei nie. Die motor was stabiel en padvas. Verbasend was die renbaangefokusde Performante heel gemaklik in stedelike verkeer en sal ek ongetwyfeld die Italiaanse bul elke dag wil en kan bestuur.

Wat ‘n ongelooflike stuk ingeneurs-prestasie en myns insien die beste Lambo ooit. Met ‘n klankbaan waaraan ek vinnig verslaaf sal raak en verrigting wat my hele wese laat ophelder, oorweeg ek dit sterk om my in die politiek te begewe of vir Escom te gaan werk – myns insiens die enigste manier hoe ek ‘n Performante sal kan bekom!

Artikel Dirk Gallowitz Fotos: Calvin Fisher