December 28, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

ptr

Harley-Davidson FXDR

In 2001 het Harley-Davidson ‘n opwindende nuwe reeks tot hulle motorfiets modelle bygevoeg, die V-Rods. Met ‘n hoëverrigtingenjin (wat Harley-Davidson saam met Porsche ontwikkel het) het hierdie fiets net een doel voor oë gehad – versnelling! Hierdie nuwe reeks was radikaal verskillend van Harley-Davidson se bestaande reekse, ‘n wending waarteen sommige van die Harley-Davidson puriste teëgeskop het. Harley-Davidson was egter nog nooit bang om iets nuuts na die mark te bring nie.

2018 het vir ons weer groot verandering gebring. Die hele Dyna-reeks motorfietse het weggeval, so ook die V-Rods. Die Softtail reeks is uitgebrei en daar is verskeie nuwe modelle wat onmiddellik die oog gevang het. Wat veral belangstelling uit lok is die FXDR. Hierdie nuwe Harley-model blyk die een te wees wat die leemte wat die V-Rods gelos het, sal vul.

Die FXDR is nie gebaseer op die ou V-Rod nie. Die naaste model is seker die Breakout, maar toegerus met die sterkste enjin in die Softtail reeks, 114 kubieke duim of 1868cc, wat die krag neersit deur ‘n 240mm agterband sal die FXDR gemaklik die leemte wat die V-Rods gelos het, vul. Die hantering is ook beter. Die kleiner 19-duim voorwiel draai makliker in en die breë agterwiel bied greep wat net nie op raak nie.

Die Harley-Davidson FXDR is donker en modern. Met sy lang lae profiel lyk dit soos iets wat in Batman se motorhuis sal staan en glo my, hy trek aandag waar ook al jy gaan. Hierdie is nie ‘n gewone verrigting motorfiets nie. Hy lyk anders, voel anders, sit anders en ry anders – want sy fokus is anders. Die aggressiewe fiets is lank, breed en laag en anders as op ‘n super fiets waar jy amper plat voor-oor op die fiets lê, sit jy hier met jou voete doer voor, amper soos op ‘n cruiser, terwyl jy ook vooroor leun sodat jou hande by die handvatsels oorkant die tenk kan bykom. Dit klink ongewoon en voel aanvanklik ongewoon, maar snaaks genoeg is dit nie regtig ongemaklik nie.

Skakel jy die fiets aan is die klank kenmerkend Harley-Davidson. Die groot enjin brul en blaf hier onder jou, diep, maar nie oorverdowend hard nie. Die koppelaar aksie is lig en met die tamaai wringkrag trek die fiets amper self weg, jy moet net jou voete doer voor op die pedale sit. Stop jy by die robot besef jy skielik jy het ‘n lang oop reguit stuk pad voor jou en die duiweltjie op jou skouer wil maar net nie ophou praat nie, want hierdie fietse is gebou vir versnelling…

Gewone super fietse se fokus is op krag (kW) en spoed, maar in teenstelling hiermee fokus Harley-Davidson op wringkrag (Nm) en daarvan het die FXDR emmers vol. Die lug en olie-verkoelde 1868cc enjin lewer 162Nm teen slegs 3500 toere. Met ‘n 240mm agterwiel wat die krag op die pad neersit versnel die Night Rod met die krag van ‘n stoomtrein ongeag of daar ‘n opdraand of ekstra gewig op die fiets is. Die gevoel is ongelooflik. Dis brute krag. Dis verslawend en voor jy kan besluit of jy die saal moet vas knyp of uitbundig moet lag rits jy deur die ratte en daar is niks behalwe adrenalien in jou are terwyl jy soos ‘n vuurpyl versnel, versnel en bly versnel nie.


Die FXDR is vet pret om te ry en uiters cool daarby. Mense stop langs jou en komplimenteer jou spontaan op die mooi fiets. Maar dis hoe hy jou laat voel as jy jou been oor gooi wat van hom ‘n wenner maak. Opgewonde, jonk en soos ‘n filmster. Hoeveel motorfietse vandag het nog die vermoë om dit te doen? En is dit die moeite werd om iets te ry wat dit nie doen nie?

dav

Die Harley-Davidson FXDR verkoop vanaf R 299 000-00.

Artikel & Fotos: Johann van Tonder