December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

2019 BMW Z4 M40i

Oopdak oopketel lekkerry!

BMW kom al ‘n lang pad met oopdakkers. In die laat vyftigs het die BMW 507 veral die Amerikaners gaande gehad met selfs die Koning van Ruk en Rol wat een gekoop het. Met die ’87 Frankfurt Motorskou verras BMW die motorwereld met die Z1 konsep, ‘n klein en plat 2-sitplek oopdak sportmotortjie wat befaamdheid verwerf het vir die deure wat halfhoogte oopskuif.

Oor die jare het nog Z-motors gevolg. 007 stel die nuwe Z3 aan die wệreld bekend in die “Golden Eye” Bond fliek. In 1999 stel BMW die Z8 bekend – ‘n retro-ontwerp deur Henrik Fisker wat terugkyk op die 507. Ook die Z8 het wệreldbekendheid verwerf in ‘n Bond fliek genaamd “The World is not Enough”. Die eerste (E85) generasie Z4 word by die 2002 Parys Motorskou bekendgestel. In 2009 word die E89 modelreeks as die derde generasie Z4 bekend gestel en word ook die eerste “Z” model wat ‘n wegvou hardedak gebruik wat tot gevolg het dat die “Roadster” en Koepee modelle nie meer nodig is nie.

Dit bring ons by die vierdie geslag en nuutste (G29) Z4 wat in 2018 by die Parys Motorskou internasionaal debuteer en onlangs plaaslik bekend gestel is. Tydens die plaaslike bekendstelling van die nuwe Z4 het BMWSA slegs twee modelle beskikbaar gemaak, naamlik ‘n sDrive 20i met ‘n 2.0 liter 4-silinder petrol-turbo enjin wat 140 kW en 320 Nm lewer en krag na die agterwiele stuur met behulp van ‘n 8-spoed outomatiese ratkas. Die 0-100kpu lopie word aangegee as 6,6 sekondes en gemiddelde brandstof verbruik as 6,1 l/100km. Die verkoopprys beloop R755,900.00.

Ons het egter slegs die topmodel M40i bestuur en was gaande oor die verrigting, paddinamika en sportiwiteit van die spesifieke Z4-model. Toegerus met die vervaardiger se warm 2,998cc reguit 6-silinder turbo enjin, was verrigting ‘n belewenis (veral met die dak weggevou) wat die bloed laat bruis het. Met 250kW en 500Nm is die 0-100kpu lopie in slegs 4,5 sekondes afgeblits met die topspoed wat elektronies by 250kpu beperk word. Die ‘n seepgladde outokas wat krag na die agterwiele stuur, se oorskakelings was blitsig, veral in Sport en Sport+ rymodusse, selfs wanneer die ratspane agter die stuur gebruik is. Die Z4 se lang neus en kort agterkant met ‘n opwip ingeboude vlerk, waar die bestuurder net voor die agterwiele sit, sorg vir ‘n tipiese Roadster ontwerp en ry-ervaring. Teenoor die uitgaande model is die nuweling 9cm langer met ‘n spoorwydte wat opvallend verbreed het (10cm voor en 6cm agter). Volgens BMW het hul witjasse dit reggekry om ook nog ‘n paar kilogramme se gewigsverlies op die nuweling te bewerkstellig en saam met die M40i se kragtige enjin, is dit ‘n resep vir heerlik speel terwyl die wind jou kuif kam.

Die Z4 se kajuit is myns insiens die mooiste in sy segment. Die nuweling is toegerus met digitale instrumentasie en ‘n omvattende reeks van moderne en funksionele stelsels en bestuurderhulpmiddels, terwyl die pragtige sportsitplekke bydra tot ‘n sportiewe, moderne en visueel treffende kajuit.

Op die pad was die nuwe Z4 M40i ‘n absolute fees om te bestuur, veral met die dak weggevou sodat die gesuis van die wind en die pragtige sonoriese klanke van die uitlaatstelsel, veral wanneer die toere hoog gejaag word, soos musiek in die ore speel. Paddinamika, verrigting, greep, balans en uitstekende terugvoer van die stuur, maak die nuwe Z4 M40i my gunsteling en eerste keuse in sy segment. Die hoër kraglewering en enjinklank van die Beemer druk my vorige gunsteling, die Porsche Boxter, nou na die 2de plek.

Teen R1,030,500.00 is die Z4 M40i nogal duur, maar sy treffende voorkoms, uitstekende paddinamika en opwindende verrigting vir loutere bestuursgenot, maak dit ‘n uitstekende kopie.

Arikel: Dirk Gallowich