December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Klipklim Koning

OPGEKNAPTE TRITON KOM MET VARS AANSLAG OP BAKKIEKROON

Mitsubishi is nie sommer enige hier-jy vervaardiger as dit by bakkies kom nie. Met meer as 40jaar se ondervinding van bakkies bou is dit geen wonder dat die jongste Triton bakkie so beïndruk nie. In Suid Afrika was die Colt-reeks bakkies van weleer ook baie gewild. Ses maande gelede is die nuweling aan die wereld bekend gestel en nou het die jongste Triton ons hier op plaaslike bodem kom verras met ‘n moderne, maar tog tawwer-as-terminator-voorkoms. Terwyl die nuwe Triton in wese slegs ‘n verjongingskuur ondergaan het, is daar ook etlike verbeterings en verfynings in die kajuit en onder die bakwerk aangebring.

Aan die voorkant tref die nuweling met Mitsubishi se jongste weergawe van die “Dynamic Shield” ontwerpfilosofie wat die nuut ontwerpte hoofligte en dagryliggies beklemtoon. Van die kant beskou vertoon die sterk lyne, skerp hoeke en ronde kurwes van die uitgeboude wielboë modern en tog ook aggressief. Ook die nuwe agterligontwerp bring ‘n vars voorkoms. Die resultaat beklemtoon ‘n forse dinamiese voorkoms, laat die koppe draai en maak die nuwe Triton myns insiens tans die mooiste bakkie op plaaslike paaie.


Binnekant is die kajuit van die nuweling omvattend verbeter en vernuwe. Terwyl die robuuste en tawwe bakkiebeeld steeds behou is, skep die kwaliteit afwerking en sagte oppervlaktes ‘n algehele ervaring van luukse moderne gemak. Die lang lys van standaard toerusting sluit ondermeer in leerbekleedsel, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel (met skakelaars vir die klank- en spoedbeheerstelsels) wat teleskopies sowel op-en-af kan verstel en elektriese verstelling vir die vensters, kantspieëls asook die bestuurdersitplek. Daar is ook dubbelsone outomatiese lugversorging as standaard asook sleutellose toegang en ‘n trukamera om met parkering te help. Verder bied die netjiese hoë definisie raakskerm middle bo in die voorpaneel toegang tot ‘n radio/cd klankstelsel met MP3 speler wat met Bluetooth ook koordlose stemopdragte kan uitvoer. Die stelsel is ook met Apple CarPlay en Android Auto (Opsioneel) aanpasbaar. Verder is USB en 12V sokke ook standaard.

Die verbeterde 4WD stelsel wat nou met elektroniese veldrybystand toegerus is, se ritmodusse word verstel met ‘n draaiknop verstel wat op die middelkonsole tussen die voorste sitplekke geplaas is. Die skakelaars vir “Heuwel-af”- beheer (Hill Decent Control) asook “Heuwel-hou” is by die draaiknop geplaas wat die bestuurder die opsie gee om te kies tussen 2H (normale paaie), 4H (grond en sandpaaie), 4HLc (Modder, glyerige sneeupaaie en dik sand) en 4LLc (uitdagende 4-trek roetes en rotsklim) na gelang van die terrein en padoppervlakte.

Die 2019 Triton gebruik steeds die uitgaande Mitsubishi se beproefde 2.4L MIVEC Turbo Diesel “Common Rail” enjin met direkte inspuiting wat gekoppel is aan ‘n heel nuwe 6-spoed outomatiese ratkas. Die enjin lewer 133kW@3500rpm piekkrag en 430Nm wringkrag wat reeds by 2500rpm beskikbaar is. Brandstofverbruik vir die outomatiese Triton word amptelik aangegee as 7,6l/100 km in ‘n gekombineerde siklus van stad en ooppadry. ‘n 6-spoed handratkas opsie is wel beskikbaar met amptelike brandstofverbruik van 7,5l/100km. Die 2019 Triton kan 3100kg sleep.

By die AWD modelle word krag na al vier wiele gestuur via Mitsubishi se Super Select II 4WD Stelsel met “Electronic Off-road Assistance”. Heuwel-af beheer en ‘n agterste ewenaarslot is beskikbaar as verdere hulp wanneer daar in die boedoes gekerjakker word.

Tydens die bekendstelling kon ons die nuwe Triton deur en oor ‘n uitdagende veldry roete neem.

Met die nuutste generasie Super Select II 4WD stelsel wat in die outomatiese modelle oor ‘n “Off-road”-modus beskik, kan die bestuurder kies tussen GROND, MODDER, SNEEU, SAND of ROTSE wanneer die beheerknop in die “4LLc” opsie geskakel is. Wanneer die “OFF-road”-modus ingeskakel is, beheer die stelsel die hoeveelheid enjinkrag, kies die korrekte rat vir die terrein en reguleer terselfdertyd ook die remkrag ten einde die minste moontlike wieltol te verseker. Uiteraard word dit alles gedoen om die nuwe Triton die bes moontlike verrigting te gee wanneer daar oor uitdagende terrein genavigeer word.

Met ‘n draaisirkel van 5,9m, 220mm grondvryhoogte, 28º intreehoek, 23º vertrekhoek en ‘n oorklim hoek van 25º, was die roete maklik baasgeraak deur die Triton wat besonder goed ontwerp is om juis moeilike roetes aan te pak.

Ons was veral beïndruk met die 2019 Triton se elektroniese “Heuwel-af ”- stelsel wat die bestuurder toelaat om te versnel of te rem na gelang van omstandighede sonder dat die stelsel, soos by ander voertuie met ‘n soortgelyke funksie, uitskakel. Verder sorg die addisionele “Rock” opsie in 4LLc die 2019 Triton bykans enige terrein kan baasraak.

Die nuwe Triton is nie net veel mooier as die huidige kompetisie nie, maar ook beduidend ligter op brandstof en op die beursie. As jy my nie glo nie, gaan toetsbestuur een!

Reeks en Pryse

2019 Triton 2.4L DI-DC Handrat 4×2 – R509 995

2019 Triton 2.4L DI-DC Outomaties 4×2 – R529 995

2019 Triton 2.4L DI-DC Handrat 4×4 – R569 995

2019 Triton 2.4L DI-DC Outomaties 4×4 – R589 995

Ingesluit by die prys van die 2019 Mitsubishi Triton is Mitsubishi se 3 jaar/100 000km vervaardigerswaarborg, ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan en ‘n 5 jaar/ onbeperkte kilometer padbystanddiens.

Artikel: Dirk Gallowitz