December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

BMW R1250GS & R1250GS Adventure

Vir jare, nee dekades, is die BMW GS die swaargewig kampioen onder die Avontuurfietse. Jaar vir jaar het daar nuwe uitdagers gekom, maar elke jaar plant die kampioen weer die uitklophou: beste verkoper in sy segment vir die jaar. 2018 was die agtste jaar in ‘n ry waarin rekordgetalle GS motorfietse vervaardig en verkoop is. 165 000 motorfietse in 2018 alleen. Die afgelope paar jaar sien egter strawwer kompetisie vir die ou stryddros, met veral KTM se 1290R wat nogal byval vind. Geen kampioen kan dus op verlede prestasie roem nie, jy moet bly oefen, bly verbeter, harder terug slaan.

Nou het BMW die nuutste weergawes van hul vlagskip avontuurfietse bekend gestel. Die R1250GS en R1250GS Adventure. Steeds toegerus met die tradisionele boxer-enjin, wat al vir 35 jaar diens doen, maar weereens verbeter, weereens verfyn. Dit sal dus nie help om verder oor die GS en sy deugde te skryf nie, die publiek ken die fiets reeds al te goed. Wat Jan Alleman wil weet is, wat is anders?

Daar is verstellings aan die elektronika, vering, enjin en remme, terwyl die basis fiets grootliks dieselfde gebly het. Min het verander dus, volgens sommige, maar die effek van die verandering is groot. Die nuwe GS het ‘n heel nuwe karakter en dit is grootliks te danke aan die nuwe skuiwende nokas in die enjin. Met die nuwe konsep beweeg die nokas letterlik heen en weer, tussen twee posisies, en gee vir die motorfiets meer wring en ekonomie teen die laer toere, terwyl die verrigting in die ander posisie sommer heelwat opgestoot word. Die nuwe enjin ontwikkel nou 100kW en 143Nm (op van 92kW en 125Nm) en boonop is die wringkrag van laer toere beskikbaar. Ander veranderinge in die enjin sluit in 84cc meer (1170cc na 1254cc), verbeterde olie voorsiening, nokas aandrywing, suierverkoeling, ontbranding en enjin-bestuur. Daar is selfs ‘n nuwe uitlaatpyp. Dit dra alles by tot ‘n meer verfynde enjin met soepel kraglewering. Selfs die ratkas se wisselaksie is heerlik glad, vergete is die dae waar die GS se ratte so in geklap het.

Tegnologies is al die tegno-truuks teenwoordig en meer. Ry-modusse vir reën, pad, dinamies en enduro, met Dinamies-Pro en Enduro-Pro ook beskikbaar. Daar is dinamiese vastrapbeheer, dinamiese rem-hulp, ABS-pro en selfs opdraend-wegtrekbeheer. Die elektroniese vering wat ons vir die eerste keer in die GS Rallye gesien het, is nou in sy tweede generasie teenwoordig. Ook hier het jy die keuse tussen Auto, Max en Min. In Auto pas die vering self aan na gelang van die terrein en die gewig op die motorfiets. In Max is die vering meer ferm en die grondvryhoogte beter. Hierdie was die keuse veral teen hoër spoed. Hoe harder jy die GS druk, hoe beter werk die verstelling. Die fiets voel vasvoetig en seker, selfs op grond, teen snelhede anderkant die spoedgrens. Op die Min verstelling is die vering sagter. In die stadige, tegniese dele was die verstelling my gunsteling, alhoewel jy moet weet dat jy effens grondvryhoogte prysgee. Die vering absorbeer al die stampe en stote terwyl jy die fiets oor die rowwe terrein navigeer.

So wat is die beter keuse, GS of GS Adventure. Interresant, as jy kyk na waarde is die duurder Adventure seker die keuse. Vir om en by R25 000 meer kry jy ‘n groter brandstof tenk, groter windskerm, traliebeskerming, wyer voetstutte, hoër vering, LED ligte, verstelbare agterrem-pedaal, beter sitplek en staal rame vir jou bagasie (die GS het plastiek rame). Daar is selfs ‘n oulike kassie op die tenk waar jy jou sleutel, tolgeld en afstandbeheer kan bere. Maar dan hang dit af wat jy wil doen met die fiets. Want die afwesigheid van al die ekstras maak juis die GS ‘n opwindender fiets. Hy is ligter, kleiner, makliker om rond te gooi. Op die Adventure wil jy toer, voëls kyk en blommetjies ruik. Die GS ry jy baie meer entoesiasties, vinniger en vinniger, soos die wind oor enige terrein.

Ongeag jou keuse, BMW het weer reggekry om die nuwe GS in lyn te bring met wat ander vervaardigers bied. BMW is ‘n premium fabrikaat en ‘n vlagskip fiets is ‘n luukse, so moenie verwag dat jy ‘n winskoop prys gaan betaal nie. Maar vir die wie so fiets kan ry, sal die nuwe 1250GS en GSA nie teleurstel nie.

Pryse is as volg:

R 1250 GS

Full Spec                   R263.000,00

Style Exclusive         R265.700,00

Style HP                    R275.000,00

R 1250 GS Adventure

Full Spec                   R288.900,00

Style Exclusive         R297.400,00

Style HP                    R299.500,00

Artikel: Andre van Tonder Fotos: Rob Till