December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

Hyundai H1 Bus

Staatmaker toerbus verbeter

Hyundai voertuie was altyd bekend vir goeie waarde vir geld en betroubaarheid, maar die hedendaagse geslag Hyundai modelle tref deesdae ook met aantreklike ontwerp en goeie gehalte afwerking.

Hyunda SA het laasjaar sy gewilde nege-sitplekker H1-bussie opgekikker en die staatmaker toerbus beïndruk nou met ‘n moderne voorkoms en heelwat lekkerry geriewe. Die opgekikkerde H1 bus se voorkoms is netjies reggetrek en met die herontwerpte vooraansig met nuwe hoofligte en heelwat ekstra chroomafwerking, trek die bussie behoorlik aandag onder die stylbewuste petrolkoppe onder ons.

Hyundai SA het twee enjin weergawes van die toerbusmodel plaaslik bekend gestel asook ‘n paneelwa. Die 6-sitplek MultiCab is amptelik nie langer in SA beskikbaar nie, maar die opsie is steeds beskikbaar as ‘n spesiale bestelling. Pragtige 17” sierwiele doen diens op die topmodel Elite diesel terwyl die Paneelwa steeds op 16” staalvellings ry. Die H1 2.4 Executive word aangedryf deur ‘n 2359cc viersilinder petrol enjin wat 126kW en 225Nm lewer en is toegerus met ‘n 5-gang handratkas. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 10,2l/100km in ‘n gemengde gebruiksiklus. Die verkoopprys beloop R499,900.

Die topmodel H1 2.5 Elite word aangedryf deur ‘n 2497cc viersilinder turbodieselenjin wat 125kW en 441Nm lewer via ‘n 5-gang outomatiese ratkas. Amptelike verbruik is 9,8l/100km en die verkoopprys is R629,900. Aandrywing by al die modelle is deur die agterwiele.

Die luukser diesel H1 Elite word luuks toegerus en die ruim kajuit is standaard afgewerk met leerbekleedsel. By die jongste model is die poeierkwas ook mildelik in die kajuit aangewend en ‘n beter infotainment stelsel met ‘n groter raakskerm doen diens middel bo in die voorpaneel. Die stuurwiel met afstand beheerskakelaars vir klank, togbeheer en kommunikasie kan nou teleskopies in- en uittrek asook op-en-af verstel. ‘n Trukamera as parkeerhulp is bygevoeg in die Elite model met die beelde wat in die truspieëltjie vertoon word.

Om die H1 bus meer begeerlik en geriefliker as toerbus vir die familie te maak, sluit standaard toerusting op die topmodel nou ondermeer in Bluetooth koppeling, ‘n USP sok, spoedbeheer, ten volle outomatiese lugversorger met klimaatbeheer, elektries verstelbare kantspieëls wat kan toevou. ‘n tweede verkoelde paneelkassie is ook bygevoeg net reg om te verhoed dat die sjokoladestafies smelt of om die lafenissies koel te hou. Groot skuifdeure aan beide kante maak in- en uitklim vir agterste passasiers prakties en gemaklik.

Vir veiligheid is daar lugsakke asook ESP (elektroniese stabiliteit program) en uitstekende remme. Vir ‘n groot bus het die H1 gemaklik en vinnig gestop wanneer nodig. Ons het gevind dat die H1, ten spyte van sy logge lyf, ook sonder probleme in die knap parkeerspasie van die inkopiesentrum navigeer danksy ‘n baie effektiewe kragstuur.

Op die pad het die H1 Elite se 2,5 diesel beïndruk met gemaklike hantering en goeie padgedrag. Sitposisie is hoog met goeie sigbaarheid vir die bestuurder. Die grootte van die bus mag dalk lomp voorkom, maar paddinamika selfs deur die bergpas se draaie het die teendeel bewys, grootliks te danke aan die McPherson tipe vering met gas skokbrekers voor en ‘n 5-punt multi-skakel vering agter wat met olie-gevulde skokbrekers toegerus is.

Wat verder tot die H1 se voordeel strek is dat die diesel gemaklik tot 1,5 ton se vrag kan sleep asook 842 liter se bagasie in die bagasieruim kan dra. Dit maak ‘n langpadtoer met 9 insittendes soveel meer prakties en gemaklik.

Die H1 bussie is ‘n uitstekende alternatief tot die ander vervaardigers se modelle wat in hierdie segment beskikbaar is. As jy ‘n luukse bussie vir die familie soek, bied die Hyundai H1 Elite Diesel die ideale opsie.

H1 2.4 Executive Bus (petrol, handrat)                  R519 900

H1 2.5 Elite Bus (turbodiesel, outomaties)             R644 900

Pryse sluit in Hyundai se 5-jaar/150 000 km waarborg met ‘n addisionele 2 jaar/50 000 km vervaardigers waarborg vir die aandryfstelsel asook ‘n 5 jaar/150 000 km padbystanddiens en ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan.

Artikel: Dirk Gallowich