December 29, 2024

Ultimate Drive

Your FREE Motoring Publication in the Western Cape

dav

Lexus ES

Lexus het onlangs hul nuwe ES model-reeks aan die media bekend gestel. Wat prys, enjin en verrigting betref, skakel die ES onder die IS in, maar wat spasie, gerief en luuksheid betref skakel die ES langs die IS model-reeks in. Waar die IS gemik is op kopers met verrigting as prioriteit, bied die ES ‘n alternatief vir die koper wat spasie en luukse rygerief vooropstel.

Met eerste oogopslag is die ES onmiskenbaar Lexus, met die uurglas-rooster so uniek aan die handelsmerk. Die motor is langer (+65 mm), laer (-5 mm) en breër (+45 mm) as sy voorganger. Die langer asafstand (+50 mm) het die ontwerpers in staat gestel om die wiele nader aan die hoeke van die motor te druk, wat tot ’n groter spoor voor en agter (+10 en +37 mm) gelei het. Klim jy in die motor val die morge van spasie onmiddellik op. As redelike groot persoon is ek gewoond om die sitplek tot heel agter te skuif, maar hier moes ek die stoel weer na voor skuif om net by die pedale uit te kom.

Die bestuurder se fokus word op die pad vorentoe gehou deur die middelste vertoonskerm, instrumentepaneel en weerkaatsskerm (in die SE 300h) in ’n stywe groepering binne die bestuurder se gesigspunt te plaas. Lexus noem hierdie konsep “Seat in Control”, ’n eenvoudige idee wat verseker dat al die kontroles wat jy nodig het, binne bereik is en al die inligting wat jy gebruik, maklik sigbaar is. Toegerus met die nuutste weergawe van die Lexus Safety System + het die Lexus ES in die jongste Europese NCAP-botsstoets geskitter en volpunte ­– ’n vyfstergradering – met sy gemiddelde telling van 86,25 behaal. Dit was een van die hoogste tellings wat Euro NCAP nog vir enige motor onder sy strenger 2018-assesseringskriteria aangeteken het.

Die nuwe ES is net met een kragbron beskikbaar. Die ES 250 het ’n splinternuwe, hoëdoeltreffendheidsviersilinder-petrolenjin van 2,5 liter en ’n nuwe outomatiese agtgang-transmissie met direkte wisseling. Die brandstofverbruik vir die ES 250 is 6,6 liter / 100 km en die motor versnel van 0 – 100 km/h in 9,1 sekondes. Sy topspoed is 210 km/h. Die ES 300h het ’n nuwe, vierdegeslag-selflaai-hibriedstelsel. Die hele stelsel se krag kom op 160 kW te staan en sy brandstofekonomie in die gekombineerde siklus is vanaf 4,6ℓ/100 km. Die ES 300h kan in ’n billike 8,9 sekondes van 0 – 100 km/h versnel en ’n topspoed van 180 km/h haal.

Op die pad het die Lexus eweneens beindruk met sy gewillige enjin en vasvoetige hantering, maar wat die meeste beindruk het was hoe stil die motor loop. Dit het gevoel of die Lexus sweef oor die pad vanaf Kaapstad na George op sy fluistertog na die Tuinroete. Die karakter van die ES is van so aard dat jy eerder statig (statig, nie stadig) sal rond ry as om op ‘n dolle vaart van A na B te jaag. Dink Bentley eerder as Bughatti.

Met ‘n sakpas prys, ‘n lang lys luukses as standaard en hope spasie vergelyk die ES bitter goed teen sy mededingers. Die ES bied ‘n luukse gesinsmotor teen die prys van ‘n 3-reeks, met die grote en spasie van ‘n 7-reeks. Teen net R 593 300 is hierdie dalk net die nuwe gesinsmotor-winskopie van 2019?

Artikel & Fotos: Johann van Tonder